dcsimg

Samango-aap ( Afrikaans )

provided by wikipedia AF
Samango-aap Blue monkey (Cercopithecus mitis stuhlmanni).jpg Wetenskaplike klassifikasie Koninkryk: Animalia Filum: Chordata Klas: Mammalia Orde: Primates Familie: Cercopithecidea Genus: Cercopithecus Spesie: mitis Binomiale naam C. mitis

Die Samango-aap (Cercopithecus mitis) is 'n primaat wat veral voorkom in Oos-, Sentraal- en Suider-Afrika. Die naam kom van die Zoeloe-woord 'iNsimango' wat 'ape in die mis' beteken. In Engels word hulle 'blue monkeys' genoem, wat verwarrend kan wees, aangesien die blouaap (Cercopithecus aethiops) 'n ander spesie is.

Identifikasie

Mannetjie:

  • gemiddelde lengte 140cm,
  • gemiddelde stertlengte 60cm,
  • gemiddelde massa 9,4 kg.

Wyfie:

  • gemiddelde lengte 110cm,
  • gemiddelde stertlengte 60cm,
  • gemiddelde massa 4,6kg.

Die spesie het die tipiese aapvoorkoms. Hulle is stewiger gebou as die blouaap. Hulle wange en voorkop het lang wit hare wat in alle rigtings staan. Die gesig is donkerbruin, met 'n wit gedeelte rondom die mond en nek. Die skouers en pote is donkerbruin, met die rug 'n gespikkelde grysbruin. Die penskant is ligter as die rugkant en wissel in kleur van 'n naaswit tot donkerroom. Die laaste twee-derdes van die stert is swart.

Verspreiding

 src=
Verspreidingsgebied in Suider-Afrika

In Suider-Afrika kom hulle in geïsoleerde troppe in woudgebiede van die Oos-Kaap, tot in KwaZulu-Natal, aan die suidehange van die Soutpansberge, en ook in die oostelike gedeeltes van Zimbabwe en Mosambiek voor.

Habitat

Hulle kom slegs in woudgebiede voor, maar kan hul ook vestig in aangeplante plantasies.

Gedrag

 src=
'n Samango-aap op 'n rivieroewer in Selouswildtuin, Tanzanië

Lees ook die artikel aap.

Hulle is aktief gedurende die dag, en slaap snags in hoë bome.

Die Samango-aap is 'n sterk groepsdier. Hulle woon in troppe van tot 35 indiwidue saam. 'n Interessantheid van die spesie is dat hulle bedags met ander spesies gesellig verkeer, en as multispesiegroep soms saamspan, byvoorbeeld teen 'n roofdier. Vrygeselmannetjies kom alleen of in loslopergroepe voor. Hulle veg met die dominante mannetjies van 'n gevestigde groep om paringstoegang tot die wyfies te verkry. Dit is bekend dat hierdie vrygeselgroepe 'n trop kan binnevaar, paar met die beskikbare wyfies, en dan weer laat spaander. Troppe het goed-omlynde groepswoongebiede, wat tot soveel as 18 hektaar groot kan wees.

Die lewensverwagting is nie bekend nie, maar dit word beraam dat dit soortgelyk is aan ander soortgelyke spesies: tot 20 jaar oud.

Hulle word deur luiperds, roofvoëls en luislange gevang.

Geluide

Die Samango-aap is baie raserig. Dikwels is hul geluide bokant die waarnemer se kop die enigste teken dat hulle in die omtrek is. Wanneer gevaar dreig, uiter die volwasse mannetjies 'n luide, herhalende geluid wat beskryf word as 'nyah' of 'jack'. Daarteenoor gil, skree en joel die wyfies en kleintjies wanneer gevaar dreig.

Kos

Hulle vreet veral vrugte, maar eet ook blomme, boomgom, sade en soms, larwes. In sagtehoutplantasies ruk hulle die bas van jong bome af en eet dié.

Voortplanting

Die Samango-aap paar dwarsdeur die jaar. Die wyfies wat in estrum kom, inisieër die paring deur hulle agterstewe aan die mannetjies te presenteer. Die dratyd is ongeveer vyf maande. Meestal word een, maar partykeer twee apies gebore. Die apies se pels is pikswart by geboorte, hulle oë is oop en hulle is by geboorte reeds in staat om aan die moeder se pels vas te hou. Hulle word gespeen op ses maande. Verskillende wyfies kan help met die kleintjies se grootmaakproses.

Spoor en veldtekens

Stukke vrugte, sade en skille aan die voet van bome in 'n woud.

Sien ook

Bronne

  • 'Smither's Mammals of Southern Africa. A field guide'. Redakteur Peter Apps. Derde uitgawe, 2000.
  • 'Veldgids tot die soogdiere van Suider-Afrika'. Chris en Tilde Stuart. Eerste uitgawe, 1988.
  • Animal Diversity Web -- The Blue Monkey
license
cc-by-sa-3.0
copyright
Wikipedia skrywers en redakteurs
original
visit source
partner site
wikipedia AF

Samango-aap: Brief Summary ( Afrikaans )

provided by wikipedia AF

Die Samango-aap (Cercopithecus mitis) is 'n primaat wat veral voorkom in Oos-, Sentraal- en Suider-Afrika. Die naam kom van die Zoeloe-woord 'iNsimango' wat 'ape in die mis' beteken. In Engels word hulle 'blue monkeys' genoem, wat verwarrend kan wees, aangesien die blouaap (Cercopithecus aethiops) 'n ander spesie is.

license
cc-by-sa-3.0
copyright
Wikipedia skrywers en redakteurs
original
visit source
partner site
wikipedia AF